checkerdoek tafels en liggies.
Vuurvreter se bekendstelling was iets wat ek begin beplan het die oomblik toe ek die manuskrip klaar geskryf het. Met Branderjaer was ek nat agter die ore en ietwat onseker oor wat ’n ‘launch’ behels en hoe presies mens dit kan organiseer rondom die boek.
Branderjaer se launch het by Stellenbosch Books plaasgevind en was die ideale bekendstelling om my bloot te stel aan wat presies ek wil hê vir die volgende boek, want ek was reeds besig om aan die volgende een te dink.
Omdat Vuurvreter meerendeels afspeel binne Kransbos, die woud van Chancer Bay, en die soektog binne die roman wentel om die magiese Ylwoud, het ek geweet ek wil dit groen hê – plante, bosse, bome. Lig is ook ’n belangrike element binne die boek – Mieke se kamer is juis beskryf as ’n hawe vir liggies, daar hang selfs skerwe spieël aan ’n tou om die fairylights te reflekteer teen die mure en dak. Uiteindelik wou ek die spasie ietwat … oper hê – genoeg spasie om gemaklik te sit en te beweeg. Natuurlik het ek geweet dit moet in Stellenbosch wees.
The Meeting Place, die Botaniese Tuine en De Stomme Jonge was my drie hoofkeuses, maar dit was nog altyd bedoel om De Stomme te wees. Laas jaar het De Stomme ’n belangrike spasie vir my geword in Stellenbosch. Dit was soos ’n time capsule gewees, iets uit Harry Potter and the Goblet of Fire. Jy het gestap na hierdie massiewe boom en ’n klein checker-doek tafeltjie en skielik is daar twee piekniek tafels aan jou regterkant op ’n dek, met trappe wat binne hierdie bar inlei. Binne hierdie bar was daar twee kamers, een met die toonbank en klein tafels, ou, buitelandse geld en besigheidskaartjies en foto’s teen die mure vasgeplak van jare gelede, die ander met banke en tafels, witkrytborde, bordspeletjies, ou tydskrifte en asbakke. Dis hier waar ek leer De Stomme Lager drink het en uiteindelik geweet het watter bier vir my lekker smaak (dit was ’n lang journey). Dis hier waar ek my heel eerste date gehad het, by daai klein, ronde checkerdoek tafeltjie onder die eikeboom. Ek was laat, verf oor my hande. Hy het koffie gedrink, gerook en Vonnegut gelees terwyl hy vir my wag. Dit het ontwikkel in die plek waar ek met my pelle ’n bier na werk of klas gaan drink het, gedebateer het oor die maklik en die moeilik van ons lewens, oor politiek en musiek en Afrikaanse-kultuur.
Toe De Stomme moes skuif was dit gelukkig net oorkant die pad en – gelukkig vir my – is dit nou groter, daar is ’n buite area waar die groen bome verlig word met ’n paar fairylights en die kerse op die checker-tafels (daar is nou menigte, nie net my spesiale ronde een nie). Hoe meer ek daaraan gedink het hoe duideliker het dit geword dat De Stomme Jonge die ideale plek is vir Vuurvreter se bekendstelling.
Nes met Branderjaer was dit ’n aand waar meeste van my gunsteling mense bymekaar kon kom, kon lag, kon gesels. Dit het lieflik begin met my vriendin wat van Hermanus af gery het – een van die plekke waarnatoe ek vlug vir die see wanneer die regte wêreld te veel raak. Toe ons moes gereedmaak die aand was dit ietwat chaoties, loadshedding het ons onkant gevang. My flatmate moes fone ophou langs my kerse sodat ek my grimering kon doen, maar ek, my vriende, flatmates en ma kon ’n glasie wyn klink op die aand voordat ons na De Stomme gery het en besef het – dit reën.
’n Disaster? Glad nie. Ek sou geskok wees as dit nie gereën het nie. In ieder geval toe ons binne De Stomme was (onderdak, dankie tog) was dit ideaal. Reën, liggies, musiek en samesyn. En Vuurvreter trots uitgestal op ’n checkerdoek tafeltjie.
Hierdie keer, nes met Branderjaer, was ek … fladderend. Daar is so baie mense om te groet, gesprekke wat ek wil voer, mense wat ek lanklaas gesien het, wat ek wil bedank – terselfdetyd wil ek sit en asemskep, maar dit is nie heeltemal in my persoonlikheid nie. Ek het gevoel asof ek soos ’n haai moes aanhou vorentoe beweeg om aan die lewe te bly. Ek kon darem een oomblik van stilte by die kroegtoonbank vind toe ek en Danie du Toit ons biere bestel het en vinnig gesels het oor die vrae wat hy sou vra. Dit was so ’n refreshing ervaring, juis omdat Danie altyd ’n vriendelike gesig is en ek so baie respek het vir hom as kunstenaar, nie net as ’n skrywer en musikant nie, maar as ’n kunstenaar wat ander ondersteun. Ek onthou hoe ek in Drum, die Du Toit-broers se restaurant, gesit het en na die opera-sangers geluister het wat Danie hoor sing het op straat. Daar is iets magic aan iemand wat hulle hand na ander uitreik en hulle probeer ophelp.
Die gesprek het vlot verloop. Danie het die ‘shout’ (die woorde op die voorblad) verskaf nadat hy Vuurvreter gelees het, dus was dit uiters maklik om met hom te gesels oor die storie. Omdat Danie ook ’n skrywer is, jonger is en in die alternative scene is, het hy weer ander aspekte van my verhaal raakgesien wat ander nie noodwendig het nie. Hy kon my vra oor die details wat ek gevoel het baie miskyk soos die musiek en hoe ek weet waar dit ingeweef moet word by die storie, oor Malherbe se mental health en die landskap en spasie binne Vuurvreter en hoe dit die lewe se twists en turns uitbeeld. Hy het opgemerk dat Vuurvreter jou meesleur in terme van die karakters se gedagtes, hul inner struggles en hoe alles anders in die storie so ekstern voel in vergelyking – dit het gelei tot my – eers-wankelrige, toe later effe stabiele – beeld van ’n persoon op ’n tightrope, in ’n sirkustent. Die karakter moet fokus om hulle balans te hou, om hulle voete net reg op die tou te plaas, hul tone net reg te krul, hul arms ordentlik uitgestrek. Maar terwyl hulle oor die tou probeer beweeg gaan die sirkus voort om hulle. Tiere brul, leeus spring deur vuur-kringe, swepe slaan, narre maak torings voordat hulle inmekaar tuimel en die skare om hulle lag. Alles gebeur tegelyk. En dis hoe ek dit beskryf het, dit is hoe die leser die karakter volg, deur hulle ervaring, hulle gedagtes, terwyl alles om hulle aanhou gebeur nes dit maar is in die regte wêreld. As mens moet ons balans hou ten spyte van die geraas om ons, ons moet stabiliteit probeer bereik wanneer ons wankel en dis ’n haarfyn lyn tussen balans hou en val. Dis ’n gevoel waarmee meeste, indien nie almal van ons, deal en dis ’n gevoel wat ek intiem leer ken het in die afgelope sewe jaar so om dit te kon vasvang en vir iemand om dit te kon raaksien was ’n goeie oomblik.
Teen die einde van die gesprek was ek spyt dit was verby. Nes met Branderjaer se bekendstelling was daar reeds ’n melancholiese gevoel vir my wat ek nie kon ignoreer nie. Wanneer jy weet ’n aand gaan belangrik wees vir jou, gaan iets wees wat jy wil onthou, kan jy nie help as om voortdurend dit ingedagte te hou gedurende die verloop van die aand nie. Na ons gesprek kon ek uiteindelik my eerste kopië van Vuurvreter teken. My hoërskool, Hoërskool Stellenbosch, se skoolkoerant (Die Stelloskoop) het die aand bygewoon, tesame met een van my Afrikaanse onderwysers wat selfs een van my karakters in Branderjaer inspireer het. Ek kon vriende wat van ver af kom weer groet, foto’s neem met my boeke en die reën op die dak hoor sing terwyl ek De Stomme Lager langs my ma en my vriende gedrink het, Branderjaer en Vuurvreter en die oorblyfsels van De Stomme se befaamde roosterkoeke tussen ons op ’n checkerdoek tafeldoek.
Dit was die oomblik. Dit was die aand.