Articles

Joha van Dyk bepeins haar kleindorpie-herkoms

- Joha van Dyk, 16 Oktober 2020

Skrywer van Branderjaer oor haar kinderdae in Kleinzee, Namakwaland

Ek onthou warm somersaande en die stofstrate van ’n Boland-dorpie. Ek, my beste vriendin, en haar plaaslike laerskoolvriende. Hoe die seuns skelm rook, ’n meisie word ge-abba deur haar beste pel. Ons stap verby huise met ligte aan en half-oop, half-toe gordyne. Nou en dan sien ons ’n skadu soos iemand nuuskierig uitloer, ’n hand wat die gordyn effe subtiel terugtrek. ’n Hond blaf en ander val in ’n koor daarby in, terwyl ’n kar eers stadig ry en dan rumoerig verbyskiet. Die dorp is stil, behalwe vir ons. So stil, ons hoor net onsself. Musiek word uitgebasuin deur ’n selfoon-speaker – lirieke wat die sisteem bevraagteken, stemme wat sing oor die samelewing, kapitalisme en vlug. Ek onthou die woorde “leaders of the not-coming-backs” en die reuk van die bome wat na die sterrehemel reik. Ek onthou ons lag, die lug wat koeler raak en hoe ons begin praat oor hoe hulle wil wegkom uit die dorp, die kleindorpie stof van hulle voete wil afskud… En ’n kerkklok wat lui.

“Musiek word uitgebasuin deur ’n selfoon-speaker – lirieke wat die sisteem bevraagteken, stemme wat sing oor die samelewing, kapitalisme en vlug.”