’n rooibus en ’n woordeboek

Die begin van enige verhaal is dikwels die moeilikste om te skryf, want waar is die beginpunt? Daar is ’n voor en ’n na so hoe weet jy presies waar, of watter oomblik die hoofkarakter se verhaal open?

Ek het Branderjaer se eerste hoofstuk op die nippertjie, baie na aan wegstuur-drukkers-toe geskryf en dít binne ’n kwessie van ’n uur. Ek het dus die hele storie reeds geskryf en steeds nie geweet hoe presies ek die storie aan die leser moet bekendstel nie.

In dieselfde opsig is dit moeilik om my eie begin as skrywer te bepaal.

Die eerste keer toe ek uit my eie ’n kortverhaal oor ek en my broer geskryf het? Toe ek op my oupa se pypkar stories opgedroom het? Toe ek in Graad Twee my talent moes opspoor en my eerste ‘boek’ begin uittik het op my broer se oorgeboude rekenaar?

Dalk het dit alles begin toe ek begin lees het, toe ek sien hoe my familie sit met boeke voor ’n middagslapie. Die rede hoekom ek Engels wou verstaan was om ’n Engelse Bybelboek te lees met gold-leaf accents. Maar die scope voel steeds te groot so ek probeer dit vernou.

My eerste verhale wat ek op daardie ou rekenaar getik het was in Engels, brokkies van karakters en landskappe, onderontwikkel en maklik vir ’n kind om te verstaan, maar steeds veel beter as my Afrikaans. Ek het gesukkel om Afrikaans te assosieer met my skepsels. Die waarheid is: ek het nog nie geleer hoe om te droom in Afrikaans nie. Dit het eers later gekom. 

In Graad Tien het ek ’n groot sprong gemaak en Drama as vak geneem. Ek het as ’n semi-introvert prosa, digkuns en teaterstukkies opvoer en as deel van die klas moes ons ’n kreatiewe joernaal hou. Ek is meer en meer blootgestel aan literatuur en kuns. Ek en een van my beste vriende, Darren, was verlief op spoken word poetry, so het ek Sarah Kay en Olivia Gatwood begin kyk, en ek was vasbeslote om alles oor Ingrid Jonker te leer. Musiek het ook ’n groot rol in my Afrikaanse opvoeding gespeel. My broer se MK-invloed, my obsessie met Die Melktert Kommissie, Jan Blohm en later Spoegwolf, het gesorg dat ek anders na Afrikaans kon kyk. Ek het besef hoe daar gespeel kan word met ons taal, hoe vry en roekeloos dit eintlik kan wees. Ek het R20 bundels van Koos Kombuis aangeskaf, Spoegwolf-lirieke neergeskryf en my eie woorde versamel.

Uiteindelik het ek iets in Afrikaans geskryf – iets wat seker nou kan aanskou as my Afrikaanse-skrywerseblok-verlosser. Ek wonder soms of daardie manuskrip net ’n vastrapplek was in onbekende water en of dit eintlik net openbaar het wat ek nooit wou konfronteer nie. Die manuskrip was pynlik persoonlik en het my forseer om emosies in die oë te kyk wat ek lank vermy het. Dis blote genade dat Simone Hough van my storie/skryfstyl gehou het, want die manuskrip het baie skaafwerk gekort.

Hier begin die probleem. Waar het Branderjaer begin-begin? Hoe pinpoint ek dit presies?

My een-en-twintigste verjaarsdag en ’n rooibus toer.

My lewe was skynbaar presies op trant met wat ek wou hê. Ek het pas my Honeursjaar in Engels begin, my eerste manuskrip was in ’n proses met Human en Rousseau betrokke en ek was op ’n Kaap-ervaring naweek met my familie. Dit was ’n peak. Sekerlik.

Die begin van die Kaapse avontuur was die rooibus-toer. Ek, my ouers, broer en skoonsuster het ons in die klein sitplekke gewriemel en ons oë geskreef teen die son. Die wind het geruk en pluk aan ons hare, ek moes my eie in ’n bolla vasmaak en het probeer fokus op die opgeneemde stem wat deur my oorfone vir my oor die Kaap probeer leer het terwyl ons gery het. Ek het teruggeleun en myself forseer om te ontspan en nie te dink aan die hoeveelheid oorskryf werk wat ek gehad het met my manuskrip nie. Toe ons by Seepunt draai het ek dit die eerste keer gehoor: “Branderjaers van regoor die wêreld word gelok na die Kaapse kus …” Ek kon nie die res uitmaak nie en selfs hierdie sin is heel moontlik beïnvloed deur tyd, maar ek kan wel onthou hoe ek gevries het. Die woord het vir my uitgestaan, maar hoekom? Ek wou my skouers optrek en net aangaan met die toer, maar die gedagte het aan my geknaag. Skryf dit neer. Jy gaan dit vergeet.

So, ek het in die wind en weer my handsak tussen my voete gesit en my notaboekie versigtig uitgewriemel om die woord neer te pen.

Vir die volgende paar weke het ek daarvan vergeet. Tussendeur klas-draf, navorsing vir my tesis, drie deeltydse werke en met die redigering van my manuskrip was daar nie veel tyd vir ontspan nie. Ek het met my verjaarsdag geweet dit gaan so wees. Toe ek een aand wel vir myself tyd maak, kers aansteek, ’n glas wyn skink en in my notaboek skryf het ek weer op die woord afgekom. Daar was steeds iets daaraan wat aangrypend was en hoewel ek begin aanblaai het, het ek myself gekeer en teruggekeer na die woord.

Ek het dit eers in my woordeboek opgesoek, maar dit het neergekom op ‘branderplankryer’, die blokkiesraaiselwoordeboek het dieselfde antwoord gegee, maar in plaas van ingee het ek begin  kyk na woorde wat te make het met branderplankry.

See. Branders. Rotse. Spoel. Val. Slag.

Op een of ander manier het ek by ‘ekstremis’ uitgekom. Langs daardie woord was die volgende:

Klipvreter. Bittereinder. Vuurvreter. Stokebrand. Kanniedood.

Dadelik het ek geweet dit is my vyf karakters. Vandaar het ek stuk vir stuk elemente van Branderjaer bymekaar gemaak – uit gesprekke, flieks, leesstof, waarnemings – en brokkies begin skryf. Toe ek en my uitgewer uiteindelik moes finale besluite neem oor my manuskrip se teikenmark het ons nie ooreengestem nie, maar ek is genooi vir koffie en het toe my konsep vir Branderjaer gedeel. Simone het haar kaartjie vir my gegee, met haar e-pos adres, en vandaar het ek elke dag daarin vasgekyk wanneer ek my notaboek oopmaak en geweet: die rede hoekom jy nie gepubliseer is nie, is omdat jy nie skryf nie.

So, ek het geskryf en binne omtrent twee maande was Branderjaer klaar. Ek het dit ge-epos en in Oktober 2020, op drie-en-twintig jaar, het my droom waar geword.

Ek was amptelik ’n skrywer.

Previous
Previous

checkerdoek tafels en liggies.